Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 3 OKTOBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word, en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

KONSEP-RADIOREGULASIES VIR KOMMENTAAR DEUR OKOSA GEPUBLISEER

SA AMSAT GAAN AANBIEDING BY RUIMTEKONGRES DOEN

OPSTELKOMPETISIE OM RUIMTEWEEK TE VIER

DIE SARL GAAN OKOSA VERSOEK VIR SPEKTRUM NABY 5 MHz

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

KONSEP-RADIOREGULASIES VIR KOMMENTAAR DEUR OKOSA GEPUBLISEER

OKOSA het die konsep-radioregulasies in Staatskoerant No 33 590 van 28 September 2010 gepubliseer. Die Staatskoerant is vir aflaai beskikbaar uit die lede-alleen seksie op www.sarl.org.za, klik op “members”.

Kommentaar moet OKOSA voor 19 November 2010 bereik.

Daar is ’n aantal aansienlike verskille aan die regulasie met betrekking tot amateurradio. Die SARL sal die konsep bestudeer wat gedurende die Presidentsnet wat op Sondagaand 17 Oktober om 19:30 bespreek kan word.

Van die belangrikste veranderings is: Die ZR-lisensie sal verdwyn en daarmee een van die vyf opgeraderingskriteria. Aan persone wat die Klas A-eksamen geslaag het, sal ’n ZS-roepsein toegeken word.

Die SARL sal tydens die volgende samewerkingsvergadering met OKOSA die opgraderingsprosedure van ZR na ZS bespreek.

Daar sal ’n ouderdomsbeperking aan die Klas B-lisensie gekoppel wees. Die Klas B-lisensie sal beskikbaar wees vir persone onder die ouderdom van 20 jaar. Van ZU-lisensiehouers sal verwag word om die Klas A-eksamen te slaag voordat hulle 25 jaar oud word anders word die Klas B (ZU) –lisensie gekanselleer.

OKOSA sal op 1 en 2 Desember die publiek oor die aangeleentheid aanhoor. Die finale regulasies sal kort daarna gepromulgeer word.

U word uitgenooi om enige kommentaar voor 10 Oktober aan armi@sarl.org.za te stuur.

SA AMSAT GAAN AANBIEDING BY RUIMTEKONGRES DOEN

SA AMSAT gaan ’n aanbieding doen by die eerste jaarlikse Suid-Afrikaanse ruimtekongres, wat op 7 en 8 Oktober in Kaapstad by die Kaapse sterrewag gehou gaan word. Die aanbieding getiteld “Amateurradio se betekenisvolle bydrae tot Satellietkommunikasie” sal die baie fasette van amateurradio se betrokkenheid in die ruimte nagaan. Kortliks, die storie van amateurradio en satelliete is in baie opsigte ’n herhaling van wat gebeur het toe radio uitgevind is. In die vroeë 1900’s het radioamateurs pionierswerk verrig met die gebruik van kortgolf vir wêreldwye kommunikasie. In 1961 het radioamateurs die waarde van lae omwentelingsbane vir satelliete bewys. Teen hierdie agtergrond sal die aanbieding kyk na die hoofbydraes gemaak deur amateurradio tot satellietkommunikasie en sal dit fokus op huidige projekte , beide wêreldwyd en in Suid-Afrika. Die aanbieding sal ook raak aan ander ruimte-aktiwiteite soos SETI en radioteleskope. Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, sal die aanbieding doen en dit sal daarna vanaf www.amsatsa.org beskikbaar wees.

OPSTELKOMPETISIE OM RUIMTEWEEK TE VIER

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-Sattellietvereniging in samewerking met die die Suid-Afrikaanse Amateurradio-Ontwikkelingstrust het ’n opstelkompetisie geloods om 2010 Internasionale Ruimteweek te vier.

Die tema van Wêreld-ruimteweek, wat van 4 – 10 Oktober duur, “Geheimenisse van die Kosmos”. Reg deur die geskiedenis het die mensdom na die hemele gekyk en gewonder oor die heelal en ons plek daarin. Ons leer deesdae baie oor ons heelal maar, met elke antwoord ontstaan meer vrae. Die vrae gaan nie net om die aard van die sterre en sterrestelsels nie, maar oor die aard van die lewe self. Wêreld-ruimteweek is ’n geleentheid om na te gaan wat ons weet, wat dit beteken en wat ons nog moet leer aangaande die geheimenisse van die kosmos. Dit is ’n internasionale viering van wetenskap en tegnologie.

Die opstelkompetisie is oop vir alle leerlinge onder die ouderdom van 18 jaar. Die onderwerp vir die opstel is :”Indien jy ’n ruimtevaarder op die internasionale ruimtestasie is, watter eksperiment sou jy wou uitvoer en hoekom?”. Inskrywings moet tussen 600 en 1 000 woorde lank wees. Die eerste prys is ‘n Acer Aspire 1 Netbook en daar is verskeie troospryse. Inskrywings sluit op 15 Desember 2010. Verkry volle besonderhede by www.amsatsa.org.za en bring die kompetisie onder die aandag van hoërskole in u omgewing.

DATAOPNEMINGSTOERUSTING VIR STUDENTE-EKSPERIMENTE SUKSESVOL GETOETS TYDENS VERLEDE NAWEEK SE HABEX BALLONPROJEK

Verlede Saterdag se lansering van die Hoë Vlug Eksperiment wat toetse ingesluit het van die verskillende apparate wat ontwerp en gebou is om data van die studente se projekte op te neem en dit na die grond toe terug te stuur, was ’n groot sukses ten spyte van ’n paar haakplekkies. Hulptoerusting ten einde die ballon se vlug te volg en amateurradio-eksperimente was ook ingesluit.

Alhoewel daar probleme met die lansering was, was die hoofdoel van die oefening om te verseker dat die beheerstelsel werk soos verlang word. Die beheerstelsel moet in staat wees om self so posisie vas te stel, lesings neem wat batteryspanning, binne en buite lugtemperature en barometriese druk insluit en en finaal ’n meganisme aktiveer om homself van die ballon los te maak en na die aarde terug te keer.

Die projek het begin as ’n Sci-Bono en Radioamateurprojek in samewerking met die Gautengse Departement van Onderwys. ’n Uitnodiging is aan skole in Gauteng gestuur waarin leerlinge, wat daarin belangstel om eksperimente te bou wat in die lug per ballon opgestuur kon word, genooi word om in te skryf. 10 Skole het aangebied om deel te neem.

Vir meer inligting aangaande hierdie onderneming, besoek www.hamradio.org.za.

DIE SARL GAAN OKOSA VERSOEK VIR SPEKTRUM NABY 5 MHz

Die SARL gaan gedurende die week ’n versoek aan OKOSA rig vir ’n toekenning aan amateurradio in die omgewing van 5 MHz. Die oorspronklike dokument is bygewerk met meer voortplantingsnavorsing gedoen deur Ean Retief, ZS1PR. Die onderwerp sal ook vir verdere bespreking op die agenda geplaas word van die vergadering in November van die OKOSA/SARL se samewerkingskomitee. Lede sal die dokument kan aflaai van www.sarl.org.za uit die lede-alleen-afdeling.

SLUIT AAN BY ’n PROJEK OP BAIE LAE FREKWENSIES

Met toegang tot die BLF-spektrum van 135,7 - 137,8 kHz voor die deur, nooi Hannes Coetzee van die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust radioamateurs uit om deel te neem aan ’n BLF-projek. Indien u idees het en belangstel, stuur u besonderhede aan saardt@intekom.co.za met BLF in die onderwerplyn. U naam sal in die databasis van belangstellende persone bygevoeg word en, sodra die regulasies gepubliseer is, sal die besonderhede van die projek aan u gestuur word.

KAAP SINES VUURTORING OP DIE LUG

Vir DX-jagters sal die Kaap Sines vuurtoring, ruitverwysing IM57nx, op 9 Oktober tussen 09:00 en 19:00 UTC met roepsein CS2FCS met GG en ESB op die nie-WARC frekwensies op die lug wees.

Nog inligting is beskikbaar van http://wlol.arlhs.com/lighthouse/POR8.html en http://www.unc.edu/~rowlett/lighthouse/prt.htm.

STIGTING VAN LONGTOM RADIOAMATEURKLUB

Op 'n vergadering gehou 28 Augustus 2010 te Lydenburg is die Longtom Radioamateurklub gestig.

Die doelwitte van die klub is: om die belange van al sy lede vir alle fasette van amateurradio en verwante aktiwiteite te bevorder; om belangstelling in amateurradio in al sy fasette in die Lydenburg en omliggende gemeenskap aan te moedig en te ontwikkel en; om die doelstellings van die SARL te bevorder.

Die eerste bestuurskomitee is soos volg verkies:
Voorsitter: Theo van Wyk, ZS6RED;
Visevoorsitter: Nolene Smit, ZU6NS;
Sekretaris en Tesourier: Gabriël Joubert, ZS6BJ;

'n Grondwet vir die Klub is opgestel en aanvaar. Vir verdere inligting skakel gerus die sekretaris, Gabriël Joubert, ZS6BJ, by 082 793 2070 of stuur e-pos aan zs06bj@gmail.com.

Baie hartlik welkom aan die nuwe klub en mag dit voorspoedig met julle gaan.

OOS-RAND TAK, NUWE KOMITEE

Die nuwe komitee verkies vir die Oos-Rand tak sien as volg daar uit:
ZR6COI, Francois Jacobs, Voorsitter;
ZS6MGM, Marius Mynhardt, Visevoorsitter en Jeugbestuurder;
ZS6HE, Andre van Tonder, Eretesourier;
ZR6POP, Judy Pretorius, Sekretaris;
ZS6COG, Chris Gryffenberg, Herhaleromsiener;
ZS6HJF, Hampie Findt, Herhaleromsiener (Tegnies)
ZS6BNM & ZS6MRG, Brain & Margolet McKenzie, Spesiale projekte;
ZS6VIN, Vincent Molloy, Nuusbulletins;
ZU6RDP, Rijnhardt Kotze, Nuusbulletins;
ZS6YH, Mitchel Mynhardt, QSL-bestuurder;
Deidre Kotze, Spesiale bedrywighede.

Dank aan die uittredende komiteelede en ’n voorspoedige ampsjaar aan die nuwe komitee.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 109 is 'n relatiewe groot knaap terwyl dit voorkom asof sonvlek 1 110 besig is om te krimp. Daar is 'n goeie kans vir C-klas sonfakkels. Sonvlek 1 111 is klein en onaktief. Gedurende die week het die sonvloed bokant 90 gedraai, die eerste keer sedert 13 Maart 2010. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 20 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 15 en 10 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 10 m en dan later op 15 en 20 m na Europa toe goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Seeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA is uiteindelik weer op 15 m gedurende die vroeë aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m ook vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

9 Oktober – Die Pretoria-ARK se snuffelmark vind plaas by Pretoria-motorklub in Silverton vanaf 08:00. Kontak Almero, ZS6LDP, op 083 938 8955.
9–10 – Oktober – Antieke draadloosvereniging se AM./ESB-lampstel QSO-party;
10 Oktober – Laaste dag vir insending van kommentaar op konsep radioregulasies aan armi@sarl.org.za;
15 Oktober - Sluitingsdatum vir die indiening van foto's van "Neem-u-handstel-werk-toe";
17 Oktober – Presidentsnet om 19:30 re konsep radioregulasies.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Mirror International" wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.
Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003